Wednesday, September 30, 2009

Kinders en kopluise

Ek is raadop teen die klein gedroggies!

My kiddies het vir die Maart skoolvakansie gaan kuier in Pretoria by hulle ouma en toe hulle terugkeer na die vakansie toe vang my oog een van hierdie gehate gediertes. En van daar af sukkel ek nog al die pad.

Elke ander keer as ek een van die gediertes gewaar het op een van my kinders se koppe, dan het ek dadelik 'n mengsel aangemaak wat bestaan uit een deel Domestos en 20 dele water. En dit het nog altyd gewerk soos 'n bom. Ek het altyd uit my pad gegaan en 'n bottel Domestos gekies wat darem 'n lekker geur het.

Maar hierdie keer het die Domestos nie gewerk nie. Ek het later die Domestos aangepas en een deel met net 10 dele water gemeng en getoets op my eie kop maar dit het my kop so erg gebrand dat ek dit liewer nie so wou probeer om die arme kinders se koppe nie.

Die kleuterskool het my begin voorkeer om my in te lig oor die gogga's op my kinders se koppe en ek stel hulle toe gerus dat ek daaraan werk so hard as wat ek kan. In die weke wat volg het ek al wat 'n boereraat was op die internet opgesoek en uitprobeer en die apteek het goed geld gemaak uit my uit.

Ek het mayonaise op hulle koppe gesmeer, olie en asyn gemeng en opgesmeer en hulle in die son laat sit, hulle hare afgespoel met asyn water, ek het verskeie olies gekoop wat ek in plasenta en in hulle sjampoe gemeng het en waarmee ek elke liewe dag hulle hare spuit en hulle hare mee was. Ek het hordes verskillende luis kammetjies gekoop, middels wat die luise en die nete laat bros word (en dit was die eerste keer dat ek so iets teekom), verskillende luis sjampoe's, you name it, dit het ek beproef. Manlief het hom later vererg vir my, want die arme kinders ly vreeslik onder my en my "luis obsessie". Die kinders vermy my al heeltemal want hulle weet ek het 'n oog vir 'n luis ontwikkel en ek sien die goed op hulle koppe myle ver al. En dan sal dit mos altyd so wees dat sodra ons by mense of in winkels is, dan sien ek hierdie goed krioel op my kinders se koppe en dan moet ek my inhou om dit nie daar en dan van hulle koppe af te haal nie.

En elke liewe oggend en elke liewe aand kam ek die hare deur en kyk ek die hare deur en sorg dat hulle met skoon koppe skool toe gaan, net om die aand weer nuwe luise af te haal. Ek laat my bediende elke tweede dag as sy inkom al die beddegoed goed was en stryk om seker te maak die goed lewe nie voort op my beddegoed nie. Maar nee, ontslae raak van die monsters, die gebeur nie.

Einde ten laaste besluit ons om maar die Paraspray te koop, die "beter" een nogals. Ek spuit die hele bottel uit op my twee kiddies se hare en doen presies soos hulle sê om te doen (en toe trek ons nou al by die Julie vakansie). Die hele res van die vakansie is hulle koppe skoon. En oor die bottel sê dis net een keer se gebruik en daar nêrens staan hoe lank uitmekaar mens die produk kan gebruik nie, neem ek aan dat ek nou van die goed ontslae is.

Tot die skool die dag weer begin en die kinders weer met nuwe "goggo's" huis toe kom! Nee kyk, nou weet ek wragtig nie meer nie. Ek gaan apteek toe en praat daar met die suster en vertel haar my hartseer storie en sy glo my nie! Sy reken dis onmoontlik dat hulle nog steeds luise het. Ek gee nou moed op. Ek is raad op. By hierdie einste kleuterskool is daar 'n "dame" wat elke dag vir my oudste dogtertjie vertel dat sy luise het, of dat sy haar ma moet sê om meer gereeld haar hare te was en dies meer. In die begin het ek my vererg maar niks gesê nie, dit help anyway nie ek haal dit op my dogtertjie uit nie. Maar kyk, toe my dogtertjie die dag by die huis kom en vir my sê dat die "tannie" vir haar gesê het sy bad nie, toe kon ek my nie meer inhou nie. Ongelukkig het ek nog nie die kans gehad om dit met die skool op te neem nie, maar ek het nou genoeg gehad. Die "tannie" en die luise moet nou uitgesorteer word en vinnig ook want my geduld is nou heeltemal op.