Friday, October 9, 2009

Die kopluise, tannie en kleuterskool

Eergisteraand kom my oudste dogtertjie mos weer by die huis aan. Die "tannie" het weer na haar kop gekyk en luise gekry. Ek sê vir die kind dis onmoontlik. Net die vorige aand het ek weer hulle hare gewas en deurgekam en nie opgehou voor ek doodseker was daar is absoluut niks meer luise op nie. "Nee," sê sy, sy het vir die "tannie" gesê haar ma doen alles wat sy kan om die gogga's af te haal maar die "tannie" sê toe vir haar sy jok, haar ma doen dit nie. Nou kyk, toe bereik ek breekpunt. Tot hier toe en nie verder nie. Manlief reken hy gaan sommer die kinders uit die skool uit haal, maar ek kalmeer hom deur te sê dis een vrou, nie die skool nie en ons moet dit nou regtig met die skoolhoof gaan uitsorteer.

Nou ja, gister oggend wag ons vir die skoolhoof (wie ook ons oudste se juffrou is) en ons vra haar hoekom die "dame" sulke dinge vir ons kinders sê en nie vir my as sy my in die middae by die skool sien nie. Die juffrou se mond hang oop, want die "dame" MAG nie die kinders se koppe deurkyk en sulke goed vir die kinders sê soos wat sy doen nie! Sy wou weet wanneer die vrou dit doen en ek sê vir haar dis naskool wat dit gebeur dat sy die kinders so een een roep en hulle koppe deurkyk en al hierdie opmerkings vir die kinders sê. Ek vertel die juffrou van my elle lange lys goed wat ek al gedoen het en steeds doen. Sy sê ek is nie die enigste ma wat sukkel nie. Daar is heelwat ouers wat kom kla en dit lyk vir haar of al die goed wat in die verlede gehelp het, nie meer help nie en of die kopluise immuun geraak het teen alles. En blykbaar kom elke ma by haar aan met 'n lys goed wat hulle al gedoen en probeer het. Ek sê vir haar my lys op. Sy reken ek oortref al die vorige lyste van wat sy al gehoor het en dit lyk vir haar of ek 'n kenner van kopluise is en volgende jaar sal sy my gebruik om 'n praatjie oor kopluise by die skool te kom hou oor wat werk en wat nie. Ek lag toe net en sê dat die probleem is ek self het nog nie uitgevind wat werk nie!

Ek het gehoor dat as jy jou hare kleur dan raak jy van die goed ontslae maar ek weier om my kinders se hare te kleur. My oudste se maatjie se hare is skielik rooi en toe moes ek hoor dat as jy rooi hare het, dan het jy nie luise nie. Maar die juffrou sê dit het ook nie gehelp nie. Ek het ook gehoor dat haarsproei werk, maar dit werk toe ook nie vir my kinders nie. Nou het ek weer gehoor dat Menthol shampoo werk en ek het 'n groot bottel daarvan gekoop, maar nou ja, ek twyfel amper of dit sal werk, maar probeer dit anyway.

Toe die kinders gister van die skool af kom, vra ek hulle of die "tannie" weer deur hulle hare gekyk het en toe hoor ek die tannie het nie een van die kinders geroep om hulle hare deur te kyk nie. Ek hoop nou dit bly so.

No comments:

Post a Comment