Wednesday, October 21, 2009

Die ontstellende insident by die werk

Die insedent tussen my en Meneer Eksteen.

Op 20 Oktober is my baas heeldag in Graskop Hof. Na 2 gee my kollega vir my ‘n lys met drie name wie ek moet bel. Volgens haar het die baas gevra ek moet die persone bel, vir hulle sê hy is heeldag in Graskop Hof en dat hulle hom asseblief op 21 Oktober om 9h00 moet terugbel. Hulle was Meneer le Grange (wie my kliënt is en wie se telefoon nommer ek het), Meneer Ferreira (wie Hendri se kliënt is en wie vroeër ‘n boodskap by my kollega vir Hendri gelos het en wie se telefoon nommer op Hendri se tafel was) en dan Meneer Eksteen. Wie se lêer ek nie kon opspoor nie en van wie ek ook nie ‘n telefoon nommer het nie.

Ek het die eerste twee gebel en Mnr le Grange het dit so aanvaar, en Mnr Ferreira was nie baie happy daaroor nie maar het dit ook so aanvaar. Ek het gesoek na Mnr Eksteen se lêer tussendeur die hordes telefoon oproepe wat gedurende die middag ingekom het en tussen kliënte wat ingestoom het en tussen ‘n hele aantal betalings wat ingekom het.

Ek is na half 5 by die kantoor weg (ons kantoor sluit om half 5) sonder dat ek Meneer Eksteen se lêer of telefoon nommer opgespoor kon kry.

21 Oktober het ek om 8h00 begin werk. Ek het my toonbank uitgesorteer en na nog ‘n soektog na 8 Meneer Eksteen se lêer opgespoor gekry. My baas het in daardie selfde tyd op kantoor gekom en ‘n soektog het begin na Meneer Roets se lêer wie ‘n afspraak hier gehad het en ek moes ‘n betaling vir my kollega se een lêer doen en bankstate trek en vir Chris probeer opspoor om te hoor of hy weet waar Meneer Roets se lêer is. Na ‘n soektog kry ek toe net twee briewe wat betrekking het tot Meneer Roets se saak en daarna het ‘n soektog begin na Meneer van Staden se lêer wie volgende ‘n afspraak gehad het en ek moes 'n ander prokureur firma se telefoon nommer opsoek en vir my baas gee. Toe ek dus by my tafel kom en reg is om Meneer Eksteen se telefoon nommer te soek en hom te bel, toe bel hy.

Hy trap my van die begin af uit. Ek kry skaars ‘n woord in. Hy gaan af oor my baas hom nie teruggebel het nie en hoe hy moet sukkel om hom in die hande te kry en en en. Ek verduidelik vir hom dat my baas gister heeldag in die hof in Graskop was. Hy gaan aan oor my baas hom na die hofsaak dan kon bel. Ek verduidelik vir hom dat my baas glad nie eers teruggekom het kantoor toe nie want die saak het heeldag aangehou. Ek kon nie eers die kans kry om hom te sê ek wou hom nog bel daaroor nie, want hy het net aangehou en aangehou. Hy sê vir my hy betaal goeie geld vir diens wat hy nie kry nie en dit maak hom nou (en ek haal sy presiese woorde aan) die bliksem in vir my baas. Want my baas antwoord nie sy duisende oproepe nie en bel hom ook nie terug nie. Ek was sprakeloos, wat kon ek sê? Hy wou weet of my baas nou op kantoor is en ek sê ja. Hy wil dan nou met hom praat. Ek sien my baas is op sy foon besig en ek sê dit vir die man. Hy reken hy sal aanhou tot hy met my baas kan praat. Ek laat hom aanhou. Na ‘n baie lang ruk is my baas nog steeds op sy telefoon besig en ek sê dit vir hom en hy sê hy gee nie om nie, al moet hy heeldag aanhou vir my baas, dan doen hy dit maar dis dringend dat hy met my baas praat. En tydens die hele gesprek is hy uiters ongeskik, mislik en sarkasties. Ek sit hom deur na my baas toe, waarna die twee ‘n fight op die foon gehad het. Dit was net voor 9.

Dit was net na 9 toe lui my foon weer. Dit was weer Meneer Eksteen. En hy trap my behoorlik uit en sê my so sleg dat ek die trane nie kon keer nie. Ek is soooo ontsteld daarna dat ek summier my bedanking wil insit en wil huis toe gaan. Sy woorde sny soos ‘n mes deur my. Ek was in my hele lewe nog nooit so beledig nie. Die blote gedagte aan sy woorde aan my laat my weer van voor af in trane uitbars. Hy sê hy verstaan van my baas dat ek gister vir hom ‘n boodskap moes gee en ek het nie. Ek sê vir hom ek het nie daarby uitgekom nie. Hy gaan af daaroor. Oor dit nie vir hom ‘n aanvaarbare verskoning is nie en “is dit al wat jy kan sê?” en wou weet watse posissie ek beklee in die kantoor waarna ek antwoord dat ek die ontvangs dame is. Hy gaan aan oor my baas gee my ‘n opdrag om uit te voer en vir die een of ander rede voer ek dit nie uit nie en hy wou weet hoekom nie. Hy soek ‘n geldige rede waarom ek nie die opdrag uitgevoer het nie. Wat moet ek vir die ou sê? Ek sê vir hom dat geen ander verskoning sy goedkeuring sal wegdra nie. En weer sê hy dis nie vir hom ‘n aanvaarbare verskoning nie. “Mense se lewens hang daarvan af en dit kan jou mos nie pla nie, jy is duidelik ook soos die res van Suid Afrika, wag net vir jou salaris aan die einde van die maand.” (die vet weet dit is nie so nie. En net daar bars ek in trane uit. Volgens my het ek meer as genoeg werk wat ek per maand doen om my salaris te regverdig, en dan praat ek nie van al die ekstra ure wat ek inwerk sonder enige vergoeding of erkenning nie. Hoe kan iemand my so beledig? Hy weet nie wat ek alles doen of hoe hard ek werk nie, hy ken my dan nie eers nie!) Hy wil hê ek moet behoorlik verskoning maak waarna ek “jammer” sê en toe is dit ook nie goed genoeg nie want hy moes dit konsuis uit my uit trek. Ek verduidelik aan hom die waarheid. Dat ek die boodskap gekry het, hy nie die enigste een was wat ek moes bel nie en dat ek nie sy lêer of telefoon nommer opgespoor kon kry om hom te bel nie en dat ek vanoggend eers sy lêer gekry het. Toe gaan hy af oor ek vanoggend al sy lêer gekry het, dit al na 9 is en hy het nog steeds nie my boodskap gekry nie. In trane vra ek hom of hy nou lekker kry om my so te beledig en of hy nou die hele dag gaan aangaan om dit te doen. En terwyl hy nog praat van hy beledig my nie, hy sê net wat die feite van die saak is toe vat Hendri die foon uit my hande uit en Hendri vra hom om op te hou en te wag vir ons baas om hom terug te bel.

Ek voel lus om te bedank. Summier te bedank en huis toe te gaan en nooit weer terug te kom nie, want dis so duidelik soos daglig dat ek nie bekwaam is om my werk te doen en opdragte uit te voer wat daar aan my gegee word nie. Ek sukkel om my emosies te beheer.

Om half 10 praat my baas weer met hom. My baas sê vir my die ou vra dat my baas my omverskoning moet vra namens hom (en volgens my baas is die ou baie emosioneel en huil hy aan die ander kant - shame siestog, ek het nie gedink hy is in staat daartoe nie.) Maar sy verskoning is nie vir my aanvaarbaar nie!!!!!!!!


Dit het my 26 jaar gevat om my selfbeeld op te bou en te aanvaar dat ek wel goed is in dit wat ek doen en aanpak en hier kom hierdie ou en breek 26 jaar se harde werk in ‘n halfuur se tyd heeltemal af. Hoe lank gaan dit nou vat om dit weer op te bou? Vir 26 jaar lank moes ek altyd hoor hoe sleg ek is en het ek geglo ek is ‘n totale mislukking. Tot twee jaar terug. Vir die eerste keer in my lewe het ek begin besef ek is nie ‘n totale mislukking nie. Ek doen nie alles verkeerd nie. Ek het begin sien waar my sterk punte lê. In myself begin glo. Geglo ek is goed in wat ek doen en aanpak en dat ek ‘n aanwins vir enige maatskappy sal wees wat my in diens neem. En hier kom hierdie ou en breek dit alles af. Sy woorde maal deur my gedagtes en ek kan dit net nie uit my kop kry nie al probeer ek hoe hard. En intussen moet ek steeds die skakelbord antwoord en vriendelik wees en my trane probeer beheer (wat vreeslik moeilik is) en mense ontvang wat my baas kom sien vir ‘n konsultasie. Ek kry nie my baas alleen om hom te vra of ek huis toe kan gaan nie. Dis nou buiten vir die feit dat ek lojaal is en besef dat as ek vandag moet huis toe gaan, my kollegas baie harder sal moet werk omdat hulle dan moet hol om die telefone te antwoord en mense ontvang en my baas het feitlik elke halfuur ‘n afspraak.

En dan maal die ou se woorde weer deur my kop “jy is duidelik net soos die res van Suid Afrika, doen nie jou werk nie en wag net vir jou salaris aan die einde van die maand” en dan tjank ek weer van voor af...

No comments:

Post a Comment