Thursday, October 15, 2009

Kinders en hulle sêgoed

My jongste dogtertjie is baie bekkig. Sy sê haar sê no matter what en sy het September maand 4 jaar oud geword. En ek verkies dit so. Die oudste een is stil, skaam en teruggetrokke. Maar ek het hulle anders grootgemaak. Met die oudste was ek baie baie strenger en sy is deur 'n moeilike tyd in haar kort lewe. Net na die jongste se geboorte het my eie persoonlikheid vreeslik baie verander en het ek self van stil, skaam, teruggetrokke en iemand wat 1000 keer dink en niks sê nie verander na iemand wat 1000 goed sê en dan eers besef wat gesê is en dan 'n "o well, I'll take the consequences of what I just said" houding inneem. En dis met hierdie persoonlikheid wat ek my jongste grootmaak.

Nou ja, ek het so gesmile gister middag na werk tydens etenstyd. Op 13 Oktober was die kleuterskool op 'n uitstappie en toe ons hulle die middag by die skool gaan haal vertel hulle vir ons dat ene Vian Joubert sy arm gebreek het en hulle weet nie wat hy gedoen het om dit reg te kry nie.

Gisteraand sit ons in die sitkamer en eet en die kinders gesels land en sand en op 'n stadium word Vian Joubert se naam weer geopper in hulle gesprek, maar dit gaan toe nie oor sy arm nie. Omdat daar twee seuntjies genaamd Vian in ons jongste se klas is, het Manlief vergeet watter Vian nou die een is wie se arm gebreek is en toe hy nou die naam Vian hoor, vra hy: "Wie het nou weer sy arm gebreek?"

Ons jongste is toe heeltemal ontstoke oor die vraag en sy antwoord: "Niemand het sy arm gebreek nie, hy het self sy arm gebreek!"

Manlief sê: "ja man ek weet hy het self sy arm gebreek, maar wat is die seuntjie se naam nou weer?"

En die antwoord kom: "Vian Joubert". (Stilte terwyl sy bietjie daaroor nadink) "Maar ek het mos al vir jou gesê, hoeveel keer moet ek dit nog sê huh?"

Nou ja, wat antwoord jy as jy jou eie woorde moet aanhoor van jou jongste dogtertjie af?

Later vra sy vir nog 'n bord kos. Sy gee haar leë bord vir haar pa en haar pa sit dit toe net op sy skoot neer en sê hy sal nou vir haar nog kos gaan inskep. Hy sit nog 'n rukkie. Toe hy opstaan, vra hy net terloops weer vir haar, net om doodseker te maak dat sy wel nog honger is: "Moet ek nou vir jou nog kos gaan inskep?"

Die antwoord wat hy kry: "Ek het mos gesê ja, luister jy dan nie as ek met jou praat nie?" en toe klap sy nog met die tong ook!

Ag maar dit hou ten minste die lewe interessant...

No comments:

Post a Comment