Friday, October 16, 2009

Kruispad

Alweer.

Ek en manlief het al hoeveel keer hieroor gepraat. En elke keer sê ek presies dieselfde ding en elke keer verseker hy my dat ek my verbeel of dat hy nie belangstel nie en dan laat ek dit daar.

Maar daar steek die ding nou weer kop uit gisteraand. Miskien is ek net simpel, ek weet nie, maar ek voel baie sterk oor hierdie kwessie.

Voor ek en Manlief nog getroud is, het ek besef hy dra sy suster se seun op die hande. Ek het hom gewys hoe onregverdig dit is teen sy ander suster se dogters en het hom gesê daai kind is nie syne nie, as hy sy eie kinders wil hê sal ek dit met liefde vir hom gee al wou ek eintlik nooit kinders gehad het nie. Ek het ook aan hom verduidelik dat sy ouers meer as genoeg geld het om vir hulle kind alles in die lewe te gee wat hy wil hê.

Nou ja, ons het toe ons twee dogtertjies gehad. Wou eintlik 'n seuntjie hê maar ek is baie happy met my dogtertjies en sal hulle nie verruil vir 'n seuntjie nie. Die jongste is inteendeel erger as 'n seuntjie en sy maak my gedaan. En wie wil nou 'n seuntjie hê met 'n dogtertjie soos sy?

Ek het al hoeveel keer hieroor met Manlief gepraat en elke keer hoor ek hy is happy met sy twee dogters en wil nie nog kinders hê nie en soek nie 'n seun nie. Nou kyk, ek hou nie van kinders nie, wou nooit gehad het nie, maar my eie twee is 'n uitsondering op die reël, ek is baie baie lief vir hulle en is nie spyt ek het hulle gehad nie. En ek wil nie nog kinders hê nie, maar sou graag 'n seun wou hê. As ek geweet het dat daar 105% kans is dat die volgende een 'n seun sou wees (wat mens nooit sal weet nie) dan sou ek dit oorweeg het om weer te probeer. Maar ek wil beslis nie nog 'n dogtertjie hê nie.

Nou ja, die jare loop aan, ek word ouer en is al hoe minder lus om te sukkel met baba's en hulle dinge. Ek geniet elke oomblik van my kinders se lewe, maar is elke dag wat verbygaan net meer en meer dankbaar hulle word ouer en nie jonger nie. Miskien voel ek anders daaroor soos die kinders ouer word, maar dis hoe ek nou daaroor voel.

En 'n ruk terug het my oom daaroor gepraat en ons gevra of ons nie maar wil probeer vir 'n seun nie. Hy sê elke man moet 'n seun hê. Hy het vriende wat net dogters het en as die manne besluit om vir 'n naweek te gaan jag, dan bring hierdie ouens iemand anders se seuns saam hulle.

Nou ja, ek het dit weer met manlief bespreek en hy reken alles wat hy wil doen kan hy saam sy dogters doen en hy gaan jag tog nie.

Ek besef toe met my sussie en manlief se susterskind dat ek ontsettend jaloers was toe ek hoor hulle verwag seuntjies. EK WIL OOK 'N SEUNTJIE Hê! (of gehad het). Wat doen hulle reg om seuntjies te kry? Manlief redeneer anders. Hy reken ons word gestraf en hulle doen seker iets reg om met 'n seun "geseën" te word. Ek bespreek dit weer met hom en hy reken toe weer hy het dit in 'n oomblik van swakheid gesê en hy is happy met sy twee dogters.

Toe moes hy 'n kollega se seun vir 'n skoolvakansie saam hom vat sodat die seun kan sien watter soort werk manlief doen. En daar tel ek dit weer op. Manlief kan nie uitgepraat raak oor die seun nie. En die seun se taak en sy punte en wat hulle alles saam gedoen het elke dag. Ek bespreek dit weer met hom en hy reken ek verbeel my dinge. Hy soek nie 'n seun nie.

En gisteraand kom Manlief tuis na 'n gholfsessie saam my baas. En hy sê vir my dat hy aan my baas erken het dat hy daarvan sou hou om 'n seun te hê en om dinge saam die seun te kon doen en my baas het gesê manlief kan gerus sy seun gaan haal om dinge mee saam te doen en sy seun sou dit baie geniet. Net daar strip ek my. Hoeveel keer moet ek nog hierdie gesprek voer?! Ek sal even so ver gaan om 'n seun aan te neem as dit moet en as ons bang is die volgende probeerslag lewer ook 'n dogter op. (as ons geld gehad het sou ek vir kunsmatige inseminasie gegaan het). Daar is geen manier wat ek gaan toelaat dat my man 'n ander man se seuns die wêreld heen rondvat terwyl ek en die dogters tuis moet bly of dit moet verdra nie. NO WAYS! As dit ons eie seun was, by all means, maar nie iemand anders se seun nie. Hoe moet ons dogters nou daaroor voel?

Ek bespreek die onderwerp so ligweg weer met manlief vandag. Nee reken hy, hy sou dit "gelike" het, maar hy is dood tevrede met sy twee dogters en wil beslis nie nog kinders hê nie. Hy het twee dogters en daar is ander ouers wat weer twee seuns het en graag 'n dogter wou hê wie na ons dogters se netbal sal kyk terwyl hy na hulle seuns se rugby kyk. Ek sê nee, net daar sit ek my voet neer. Ek sal dit nie toelaat nie! Ek sou ook gelike het om 'n seun te hê. Maar hy reken hy gaan nie geld mors vir kunsmatige inseminasie of vir nog 'n baba wat weer 'n dogter gaan wees wat ons dan moet grootmaak nie.

Lyk my ek sal ook nie hierdie een kan wen nie. Ek weet nie wat om te doen nie...

No comments:

Post a Comment