Monday, October 12, 2009

Leerling en Bestuurders lisensies

Die jaar na ek matriek geskryf het, het my pa my begin leer bestuur. Ek het 'n boekie by my vriendin gekry genaamd "Slaag jou leerling lisensie die eerste keer" en daaruit geleer. Nie vreeslik hard geleer nie, maar darem. Ek slaag toe my leerling lisensie die eerste keer. My pa leer my met sy Toyota om te bestuur tot hy sy Toyota sat gery het en ek nie verder kon leer nie.

Om 'n lang storie kort te maak gebeur dit toe dat ek uit die huis uittrek en die mense by wie ek intrek het niemand 'n voertuig waarmee ek kan leer bestuur of gaan vir my lisensie nie. My leerling verval toe.

Terwyl ek eksamens skryf vir my Human Resource Management en 7 maande swanger is met my jongste dogtertjie, gaan skryf ek my leerling lisensie die tweede keer. Ek leer uit dieselde boekie en ek leer hierdie keer baie hard daarvoor. Ek druip dit. Kon dit nie glo nie! Net daar gooi ek my boekie weg, want dis duidelik dat die boek se titel alles sê "Slaag jou leerling lisensie die eerste keer" beteken dat jy dit die eerste keer sal slaag en beslis nie die tweede, derde en vierde keer nie. Almal dink ek is simpel, maar dis hoe ek daaroor voel. Manlief gaan op dieselfde dag toe (seker vir die 4de keer) om sy leerling lisensie te skryf en hy slaag dit. Hy het ook nooit 'n voertuig gehad nie en skryf net elke keer weer en weer sy leerling.

Ons trek toe van Pretoria af na Witrivier toe en manlief leen my ouma se kar en gaan vir sy lisensie. Die eerste keer toe hy gaan in Witrivier, toe het hy nie 'n beursie nie en ek sit toe vir hom geld in sy ID boekie vir ingeval hy sy lisensie kry dan het hy darem geld om daarvoor te betaal. Ek dink ook toe net so ver soos my neus en sit die geld voor in die ID boekie. Met sy toets vra hulle sy ID en hy gee sy ID vir die toetsbeampte. En toe die beampte die geld voor in die ID sien, sê hy net daar hy aanvaar nie omkoopgeld nie en net daar en dan pluk manlief sy lisensie sonder om eers in die voertuig te klim! Die tweede keer gaan hy na Nelspruit toe en hulle pluk hom toe oor hy nie by 'n bestuurskool was vir lesse nie. Die derde keer gaan hy weer na Nelspruit toe en hulle pluk hom oor hy "gerol" het en hy het nie.

Nietemin, sy leerling verval toe ook. Tot ek besluit het tot hier toe en nie verder nie. Om jou hart in jou keel te voel klop as jy blou ligte sien is nie meer snaaks of lekker nie. En om heeldag aldag tuis te sit oor jy nie wil ry nie oor jy bang is vir verkeersbeaptes, is ook nie meer lekker nie. Ek besluit ek gaan deurdruk en ons sal weer gaan.

Manlief kerm nog dat ons finansies dit nie toelaat nie, maar plan sal ek maak, maar omdraai kans is daar nie. Ons maak afsprake deur iemand anders vir ons leerling lisensies in Komatiepoort. Ek betaal 'n ou van 'n bestuurskool vir leerstof wat ek Maandag kry en ons skryf Woensdag. Ek leer hard, manlief leer hard. Ons gaan skryf. Ek skryf my vraestel binne 20 minute klaar en voel tevrede dat ek vol punte gaan kry. Manlief skryf baie langer. Toe ons klaar geskryf het moes ons buite staan terwyl die vraestelle gemerk word. Manlief stres. Blykbaar het hy 'n vraestel gekry wat nie baie lekker was nie. Niks wat hy geleer het was in daardie vraestel nie. Ek bid net dat manlief sy leerling moet kry. Na wat soos 'n ewigheid gevoel het, roep die dame 5 mense in. Toe stres ons eers. Ek weet ek moet dit slaag, manlief is dood seker hy pluk dit. Ek reken hulle roep dalk net 5 mense op 'n slag in om die nuus te deel, of daar is net 5 wat slaag of net 5 wat druip, maar dis onmoontlik want ek is seker ek slaag en manlief is seker hy druip. Die 5 kom uit en ons hoor die een sê sy het dit nie gemaak nie. Nou stres manlief eers. Die res van ons word ingeroep en toe sy sê "Congratulations, you all have passed your learners licence" toe voel dit of 'n baie swaar gewig van my en manlief se skouers af is. Ek kan nie ophou dankie sê nie.

En net toe ons in 'n gemaksone inbeweeg, besluit ek tot hier toe en nie verder nie. Dit maak nie saak of ons 18 maande het om te gaan vir ons lisensies nie, hoe gouer ons dit kry hoe beter en hoe meer kere kan ons probeer voor dit verval ingeval ons nie ons lisensies slaag nie. Ek en manlief gaan maak die Maandag ons afsprake en hy hoor hy ry al die Woensdag! Dinsdag middag na werk kry hy 'n uurlange les met my en die kinders in die kar. (en glo my dit kon nie maklik gewees het nie) Woensdag oggend om 10uur het manlief nog nie 'n voertuig nie en hy vra inderhaas my baas of hy my baas se splinternuwe Golf kan gebruik en my baas stem in. Hy moet 11uur ry. Stres in die oortreffende trap! Hy ry toe voor ons kantoor verby en ek sien die omie langs hom lyk vreeslik nors en ek noem nogals aan my baas dat ek hoop van harte nie daai omie gaan my ook toets nie. Hy slaag dit - dank die Vader daarvoor! My afspraak is toe vir 'n maand later. Intussen ry ek lekker rond, soos my pa my nog geleer het en ek dink ek is okei. Geen oefen lesse of niks nie. En ek beplan hard aan 'n verrassingspartytjie vir manlief se verjaarsdag wat ek 'n week voor my afspraak vir hom hou. Die week wat volg tussen die partytjie en my afspraak is vreeslik besig. Ek kry my niggie se kar darem geleen maar sy studeer in Potch so ek kon eers oefen met haar kar op die vakansie dag van 24 September en my afspraak is vir 25 September om 9uur die oggend. En ek oefen vir 'n uur lank die baan, Manlief het saam my gery en sê vir die instrukteur van die bestuurskool hy is tevrede met hoe ek ry (alhoewel hy vreeslik met my baklei het op die pad want ek ry nie reg nie en hy vertel my mooi hoe ek moet ry)

My baas weier om die kantoor te sluit op 25 September. My kollega kan 'n dag se verlof vat vir daai dag, my baas is op vakansie sedert Woensdag, en ons cleaner werk by die baas se huis daai dag. Ek MOET oopsluit, kan dan gaan vir my lisensie en ek MOET na die tyd terugkeer werk toe. Ons mag om 1uur die kantoor sluit. Dis so unfair.

Ek drink twee kalmeerpille die aand voor ek gaan slaap, maar slaap anyway niks. Ek dink heeltyd aan my lisensie en wat ek geleer het en as ek aan die slaap raak, dan droom ek daarvan. Ek drink weer 2 kalmeer pille toe ek opstaan. Sluit die kantoor oop, bly tot 8uur tot die eerste siel sy verskyning maak en ry toe lisensiekantore toe. My niggie kry ons daar. Dis toe dieselfde omie wat my gaan toets. En hy is so bot soos kan kom. Die instrukteur van die bestuurskool reken dis 'n goeie ding want die omie is nie so vreeslik streng soos die ander nie. Maar die ander groet mens ten minste altyd vriendelik, die omie kyk nie eers in jou rigting nie.

Ek doen soos ek geleer is en slaag die baan. Dankie tog daarvoor. Die pad kan tog seker nie moeiliker wees as die baan nie. Die omie sê as ek die voertuig rol pluk ek onmiddellik (iets wat ek weet en hard geoefen het). Ek trek weg die eerste en tweede keer, perfek. Die derde wegtrek is die een uit die toetsgronde uit. Ek kyk vir aankomende verkeer, die pad is skoon. Ek trek perfek weg en net toe ek oor die hobbel kom om in die pad te draai, toe jaag daar 'n bakkie om die hoek en ek skrik my buite myself en laat die kar toe agteruit loop terug oor die hobbel. Net daar en dan aanvaar ek dat ek gerol en gepluk het. Ek onthou verder niks wat manlief my die vorige dag gesê en geleer het nie en ry letterlik soos my gat net om dit alles verby te kry en nie verder my of die omie se tyd te mors nie. Nou ja, die gedagte het nooit by my opgekom dat die omie my dalk daarvoor sou oorsien nie. Plaas ek net kopgehou het (of nog 'n ekstra kalmeer pil die oggend gesluk het). Ons stop en die omie laat my sit en hy sê ek het dit nie gemaak nie. En toe gaan hy aan oor wat ek alles verkeerd gedoen het. Ek trek te vinnig weg, ry te vinnig, stop nie reg nie, kyk nie vir ander karre nie, kyk op die ratte as ek van rat verwissel, rol as ek wegtrek en en en, en na hy dit alles afgerammel het sê hy bot: "okei bye".

Nou ja, die Maandag gaan maak ek toe vir my 'n nuwe afspraak en ek ry nou weer op 13 Oktober. Intussen het manlief my weer vir lesse gevat. Hy skree al baie minder op my as in die begin, so ek neem aan ek begin nou regkom. Ek sukkel nie regtig met die baan nie, dis die stop wat pla, want my pa het my geleer om eers die koppelaar in te trap en dan die rem, en eintlik is dit anders om. Ek kry elke nag nagmerries oor die toets en die omie. En elke nagmerrie druip ek my lisensie weer en weer en weer.

Ek het vir manlief mooi laat verstaan dat as ek dit die tweede keer by dieselfde omie druip, dan gaan ek nie weer terug Witrivier toe nie. My geld gaan nie daai ou bot omie se salaris verder help betaal nie. Eerder 'n strenger toetsbeampte wat meer vriendelik is as 'n minder streng bot ou oom. Nou ja, ek het nou ons geleende kar ten duurste op die pad laat sit (dit het ons oor 'n duisend rand gekos want die geleende kar se eienaars is nie bereid om dit te doen nie aangesien die bank die kar wil terugvat en hulle besig is om hulleself te sekwestreer) Met manlief se aankoms by die lisensie kantore Vrydag was hulle van lyn af. Maandag oggend is hulle reg om hom te help, maar toe het die eienaars van die voertuig (wat ons leen) 'n karavaan ook op hulle naam wat ook nie op die pad is nie en voor ons die voertuig op die pad wil sit, moet die karavaan ook op die pad gesit word en albei voertuie se agterstallige lisensiegelde en boetes moet betaal word. Nou ja, dit is toe wat so vreeslik baie geld kos.

Nou reken ek, as ek my lisensie more weer pluk en die voertuig word teruggevat voor ek weer 'n afspraak kon kry, dan sal ek baie baie ongelukkig wees en myself nooit kan vergewe vir al die onnodige onkostes wat ons dan moes aangaan nie. Maar as ek dit kry, dan sal ek darem voel dit was die moeite werd.

Nou wil ek vanaand weer kalmeerpille sluk en more beslis 3 sluk en nie net 2 nie. Vanaand gou weer vir oulaas na werk oefen en gelukkig het my baas my verlof gegee vir more so ek hoef nie voor en na die tyd by die werk te wees nie. Dis net jammer dat as jy die eerste keer die baan en voorrit inspeksie geslaag het maar die pad gepluk het dat jy die tweede keer weer alles van voor af moet doen. Maar ek hoop darem dat ek nie weer sal hoef te gaan vir 'n derde probeerslag nie...

No comments:

Post a Comment