Tuesday, October 13, 2009

My lisensie

Ek het my baas gevra vir 'n dag se verlof en hy het my 'n hele halfuur langer op kantoor gehou om 'n baie belangrike dokument te tik en gevra dat ek telefonies beskikbaar moet wees. Daarna het Manlief my vir nog 'n bestuursles gevat. Ek het hom gevra dat hy sy stophorlosie moet saamneem en my tyd moet vat en dat hy geen woord mag sê tot ek klaar is nie. Hy doen dit toe so. Ek doen die voorrit inspeksie en die baan en na die tyd sê hy net vir my dat ek dit binne 20 minute gedoen het en dat ek dit gedruip het want ek het die kar laat rol by die drie punt draai en by die een parallel parkering was ek nie in my blok nie. Ek oefen toe weer die parallel en kry dit toe reg. Hy klim in en ons trek weg. Ek vergeet die remme is baie skerp en toe ek die eerste keer stop, toe val die kinders van die agterste sitplek af en Manlief stamp sy knie blou teen die voorkant van die kar. Shame, ek het sooooo sleg gevoel! Ek trek toe weer reg weg en stop by die uitgang van die lisensie kantore. Ek sien toe dat ek tussen die bome en heining die pad kan sien, sien die pad is skoon en net toe ek in die pad inbeweeg, toe jaag daar weer 'n bakkie om die hoek en ek laat die kar weer terugloop. Nes gebeur het met my eerste probeerslag vir my lisensie. En Manlief sê net daar fail ek die toets. Ek moet eerder daar dood remme aanslaan en in die middel van die pad stop. Die bakkie kan of om my ry, of my stamp en dit sou sy skuld gewees het omdat hy baie vinniger gery het as wat hy mag.

Nou ja, die res van die pad verloop toe goed en manlief skreeu nou nie meer op my nie want ek ry darem nou baie beter as voorheen. Ek lees die Huisgenoot van voor tot agter net om my aandag op iets anders te vestig en ek drink 3 kalmeerpille voor ek gaan slaap. Ek slaap toe lekker, sonder enige nagmerries soos ek die vorige 2 weke elke liewe aand gehad het oor my lisensie. Vieruur die oggend skrik ek wakker, hoor die donderweer buite en dit sous soos dit reën. Ek bid dat dit net nie moet soos as ek vir my lisensie moet ry nie.

Ek staan op vanoggend, sluk nog twee kalmeerpille. Ek gaan gou in kantoor toe voor 8 en sit my rekenaar aan. Ry heel oggend saam Manlief terwyl hy sy besigheid doen. Voor 9 bel die kantoor. Ek moet vandag ingaan kantoor toe om veranderinge aan te bring aan die dokument wat ek gistermiddag getik het. Gaan eet rustig 'n ontbyt by Wimpy en tuis sluk ek 'n uur voor ek moet ry weer twee kalmeerpille. My afspraak is vir 13h00. Ek jaag Manlief aan en ons ry al 12h45 by die huis en kom voor half 1 daar aan. Ek stap na die ou omie toe en wonder bo wonder is hy toe heel vriendelik en groet ons ook vriendelik. Ek was stomgeslaan. Maar ek dink dis dalk oor hy my herken het van twee weke terug se toets. Daar was 'n trok besig met 'n toets op die baan, maar nietemin stuur die omie my baan toe.

Voor die toets begin sê hy toe vir my ek moet ontspan. Die vorige keer was hy doodstil en bot en het net die nodige gesê. Nou praat hy met my. WOW! Dit help baie. Ek doen die baan. By die eerste gang parkering stop ek die kar net voor die spieëljie die paaltjie stamp. Ek maak die baan in 13 minute! En dis nou ingesluit die omie se gepraat en ingesluit die voorrit inspeksie en ingesluit die tyd wat ek moes wag vir die trok om weg te trek en te ry voor ek kon wegtrek by die stopstraat. Ek voel sommer trots op myself. Hy sê ek slaag die baan. Dankie tog daarvoor. Elke liewe aand se nagmerries dop ek die baan of nog voor ek in die kar geklim het!

Hy klim in en sê weer ek moet ontspan. Ek sê vir hom dis moeilik want na my toets moet ek teruggaan werk toe. Hy vra hoekom. Ek sê vir hom dat ek gevra het vir 'n dag se verlof, maar my baas het my gebel en gesê ek moet inkom na my toets en ek sê ook vir hom dis wat die vorige keer ook gebeur het, ek moes voor en na die tyd gewerk het. Hy vra of dit my voertuig is, en ek sê nee, ek leen die kar. Ek vertel hom dat ek my man se knieë blou gestamp het oor ek nie gewoond is aan die remme nie en die remme baie skerp is. Hy dink toe dis snaaks. Hy vra my oor alles uit terwyl ek ry. My man, hoe lank ek getroud is, hoeveel kinders ek het en hoe oud hulle is, waar ek werk, waar ek bly, hoe lank ek al in die omgewing bly en werk, hoeveel mense ons in ons kantoor is en nog vele meer, waar my pa en waar my ma in die lewe is en deurentyd praat hy met my oor waar en wanneer ek moet stop en moet rem en dies meer. Dit was toe heel aangenaam. En die omie ook. Wonder wat met hom gebeur het...

Terug by die kantore stap ek agter hom aan na sy kantoor toe. Ek sit. Hy haal 'n vorm uit en ek wil wil opgewonde raak dat ek dit dalk geslaag het. Hy sit en werk sy somme uit en my moed sak weer. Hy vertel my van alles wat ek verkeerd gedoen het. Ek obserweer te laat, ek kyk nie in my spieëltjies nie en en en. Hy skuif die vorm voor my in om te teken en sê niks. Die vorige keer moes ek ook die vorm teken toe ek gedruip het en my moed is toe heeltemal in my skoene in gesak. Ek teken en kyk en sien daar is geen merk in die "fail" blokkie nie. Ek kyk weer en sien die merkie is in die "pass" blokkie. Ek voel hoe verligting oor my spoel. Hy laat my die vorms teken en sê ek het geslaag en wens my geluk. Kry my bo by die kantore waar ek moet betaal en gee vir my die nodige vorms en groet ons vriendelik toe hy loop. Dankie tog. Dis verby. Geen meer oefeninge met kinders wat lastig is en jou aandag heeltyd aftrek nie. Geen meer in toue staan vir afsprake nie, geen meer geld wat gemors word as jy druip nie, ek voel nie skuldig oor die R1 000,00 om die kar op die pad te kry nie, ek voel dit was die moeite werd. En nou het die pienk lisensie sleutelhouer wat Manlief vir my gekoop het toe hy sy lisensiekaart gekry het, eindelik 'n doel.

Dit was regtig 'n baie groot verligting. Nou is ek wettig op die pad. Dit voel so onwerklik...

No comments:

Post a Comment