Thursday, October 1, 2009

Verveeld sonder die kinders

Hierdie weeklange skoolvakansie het ons die kinders by hulle nefies in Pretoria gaan aflaai sodat hulle bietjie daar kan gaan kuier. Met die Maart vakansie het hulle by hulle ouma in Pretoria gaan kuier vir twee weke. Om jou kinders altyd by jou te hê en dan skielik alleen te wees maak dat jy nie mooi weet wat om met jouself aan te vang nie.

Met die kinders tuis is daar roetine. Soggens opstaan, koffie maak, kinders wakker maak, aantrek, tande borsel, skool toe om kinders af te laai, werk toe. Na werk is dit weer kinders oplaai by die naskool, winkel toe, huis toe, kos maak, eet, bad, tasse pak vir skool, bietjie speel of iets en dan is dit slaaptyd.

En skielik is hulle nie daar nie. Met die Maart vakansie het ons 'n wilde katjie gevang en toe die kinders nou nie tuis was nie, het ons agter hierdie dingetjie aangekruip om haar mak te maak. En na die twee weke was die katjie so mak soos kan kom en tog te oulik. En toe die kinders by die huis instap saam hulle nefies, het die katjie so geskrik dat sy die pad gevat het en sy het nooit weer teruggekom nie. Al ons harde werk toe verniet.

Met hierdie vakansie gaan dit dieselfde. Ons drentel in die winkels rond, niks wat ons jaag nie. Maak nie in die aande kos nie want wie wil nou vir net twee mense kos maak? Amper koop ons 'n klein hondjie agter wie ons ook sou aankruip, maar toe besluit ons liewer nie.

Gisteraand gaan ons by my ouma eet, daarna wil ons dalk 'n fliek gaan kyk, dalk nie. Ons ry inelkgeval en daar aangekom toe is daar nou nie 'n fliek wat ek en manlief saam wil kyk nie en daar is vreeslik baie mense. Dis mos maandeinde en Woensdae is dit baie goedkoper. Manlief wou toe gaan games speel, maar dis net so vol daar. Ons val toe by Top CD in en dis 'n fees om nie agter twee klein terroriste aan te hol heeltyd nie. Daar koop ons toe maar 2 Wii games. Besluit ons wil 'n milkshake gaan drink. Milky Lane se diens is hopeloos te stadig vir ons en ons ry. Maak by MacDonalds se drive thru 'n draai en kry daar 'n milkshake en ek vra vir Coke met baie ys. Na ons al om die hoek is, proe ek my Coke en dis toe nie skoon Coke nie, maar gemeng met Fanta Orange! Dit proe toe darem nie te aardig nie en ek drink dit toe maar so, ek meen, ek gaan nou wragtig nie nog omdraai nie, ek wil nou by die huis kom. Stop tuis en gaan kyk hoe lyk hierdie nuwe games. Speel 'n bietjie en ek raak toe aan die slaap terwyl manlief rustig voort speel.

Om middernag word ek wakker en sien manlief sit steeds regop en speel game! Met die kinders in die huis gebeur dit baie min dat ons tot so laat wakker is saans. Hulle put mens heeltemal uit.

Ek wonder hoe sou ons lewe gewees het sonder ons kinders. Ek dink dit sou heel vervelig gewees het. Ek weet nie hoe ons die tyd sou omkry nie! Desember maand gaan hulle beslis nie weer kuier nie...

No comments:

Post a Comment