Friday, October 16, 2009

Die bevredigende telefoon oproep

Dis presies wat ek vandag in is, 'n uitsonderlike goeie bui.

Eintlik het dit alles gister al begin. Aan die begin van die jaar het my baas sy dogter se kêrel aangestel om by ons kantoor te begin werk. Hy het verlede jaar matriek geskryf en leer hierdie jaar om 'n prokureur te word. Ag en hy probeer regtig baie hard. (of so dink ons almal)

Gister het hy 'n telefoon gesprek met iemand gehad oor 'n sekere kliënt en hy skryf toe vir my 'n briefie om vir die persoon te skryf om hulle oproep te bevestig en wat alles daarin bespreek was. In sy laaste paragraaf lui die bewoording toe as volg: "skrywer is heeltemal bevredig deur die telefoon oproep tussen skrywer en Leonie van u kantore...". Ek roep hom en sê ek stem glad nie saam met sy woord keuse nie en sou die woord "bevredig" eerder vervang met iets anders soos "tevrede" en die sin oortik dat dit sin maak. Ek wil net eers by hom hoor of dit reg is as ek dit dan doen, tensy hy wil hê ek moet dit so los, in welke geval ek baie bly is om te sien dat hy heeltemal bevredig word deur telefoon oproepe.

Nou ja, sy gesig het die hele reënboog se kleure weerspieël en hy was nie baie happy met my nie! Na ek die brief getik het (en reggemaak het) het hy sy geskrewe brief opgefrommel en weggegooi. Toe die baas later op kantoor kom het ek die brief weer uitgegrou en vir die baas vertel dat ek baie bekommerd is oor Fanie*, want hy word heeltemal bevredig deur telefoon oproepe en ek wys hom die brief. Nou ja, ek het 'n vuis hou op my arm gekry daarvoor! Fanie is toe nou die bespotting van die kantoor.

En vandag is nou Fanie se verjaarsdag. Die kantoor gee gesamentlik vir die een wat verjaar 'n kaartjie wat deur almal onderteken is. Ek het besluit ek sal eerste die kaartjie onderteken en skryf toe daarin: "Baie geluk met jou verjaarsdag. Mag jy vir nog baie jare bevredig word deur jou telefoon oproepe!"

Nou ja, ek sal maar die gevolge van my woorde moet vat!

No comments:

Post a Comment